Almal staan verbaas dat dit al weer ‘n nuwe jaar is. Selfs kinders praat van die tyd wat vinnig verbygaan. Kan ons die liggaam se horlosie stadiger stel of, wie weet, selfs terugdraai?

Dit is verblydend om heelwat fietsryers op die paaie te sien, maar baie mense se mooi nuwejaarsvoorneme van gesonder leef en oefen het nog nie gerealiseer nie.

Ons ken almal mense wat besonder gesond, fiks en aktief is, ook jongmense wat onfiks, oorgewig en ongesond is. Daar is ouer mense wat nie hul jare lyk nie, blakend gesond is en veel jongeres ore aansit met sport.

‘n Mens moet spaar vir wanneer jy wil of moet ophou werk. ‘n Gesonde leefwyse en gereelde oefening is soos ’n pensioen vir jou liggaam. Dit is goed vir jou hart en longe, skelet, breinfunksies en die vermoë om lewegewende suurstof in te neem en van skadelike afvalstowwe en -gasse ontslae te raak.

Die eerste twee dekades van ons lewens kan ons nie wag om ouer te word nie. Maar daarna wil baie briek aandraai. Na dertig en veral veertig plus se eerste grysheid en plooie, kan talle nogal bedruk wees oor ’n verjaardag. Met elke nuwe jaar krimp die leeftyd wat nog oor is en voel dit of die horlosie al vinniger tik. 

Fisiese veranderinge tree in. Jou fiksheid, gewig, spierkrag, uithouvermoë, koördinasie en breinfunksies begin verander. As jy niks doen om hierdie natuurlike agteruitgang teen te werk nie, is die pad afdraand. As jy boonop rook, te veel drink en eet, te min slaap, minder fisiese werk doen en oral ry pleks van stap, is die agteruitgang vinniger. Neerdrukkend né?

Daar’s ‘n uitweg. Beoefen ’n sport, ry fiets. Daar is ‘n intreevlak en oefenprogram vir oud, jonk, man en vrou, fiks en onfiks. Fietsry is nie straf op knieë en heupgwrigte soos sommige impaksporte nie. Trouens, baie sportlui gebruik fietsry vir herstel en om hul spiere te versterk na ’n operasie of besering.

Fietsry bevorder allernoodsaaklike hart- en longfiksheid. Die suurstofbenuttingsvermoë van die liggaam verminder na die twintigerjare met sowat 1% per jaar. As jy niks doen om dit te stuit nie, word selfs klein takies of stappies later jare vermoeiend. Daarmee saam kwyn lewensvreugde. Die omgekeerde is waar. Terwyl jy oefen, kan jy die liggaam se suurstofinname tot twaalf keer die minimumvlak verhoog.

Dus, as jy gesond leef en gereeld oefen, verlangsaam jy die liggaam se natuurlike agteruitgang. Dit is nooit te laat om te begin nie, dalk net moeiliker. Oefening help ook gewig beheer. Jou liggaam funksioneer meer doeltreffend. Vergelykende studies toon bejaarde, fikse sportlui het dieselfde of beter breinfunksies as onaktiewe jongmense. Ouer sportlui oor die wêreld, opmerklik in fietsry, presteer al beter en bly langer aktief. 

Die geslag wat net na die Tweede Wêreldoorlog gebore is, die „baby boomers“ is braanbrekers met hoër prestasies vir ouer mense. So, stof jou fiets af, bring dit vir ’n kenner om te verstel en te versien en trap jou gesonder in 2019!